Select Page

Die TYO span het vir hul jaar-afsluiting gaan kamp in die Kruger Wildtuin. Dit was die ideale tyd om te reflekteer op die jaar, maar terselfdertyd lekker te ontspan en te kuier.

Tussen die vroeë oggend en skemer-aand wildritte het ons byna die Groot Vyf gesien, maar ongelukkig het die geheimsinnige luiperd nooit sy verskyning gemaak nie. Die magdom ander diere en voëls het darem nie teleur gestel nie. Toe die meisies ontwaak van ’n middag-slapie het daar selfs ’n bobbejaan langs hulle in die tent gesin en homself uit die koelboks gehelp! Ons weet nou nog nie wie die grootste geskrik het nie…

Saans om die kampvuur was daar met heimwee teruggekyk op die jaar en vir oulaas oor soveel gebeure gesels. 2018 was voorwaar vol hoogtepunte en uitdagings – alles het bygedra tot ’n groot groei-ervaring. Elke Pilgrim het gedeel oor baie groot groei-areas uit hul lewe. Soms was die impak van die groei baie wyer as net TYO – byvoorbeeld een pilgrim het gedeel oor hoe baie die TYO ervaringe gehelp het om ’n gesonde verhouding met sy/haar ouers te kweek.

Een ding was seker, die jaar het ’n groot bewustheid gekweek van God se teenwoordigheid en elkeen gaan die toekoms in met ’n dieper verhouding met Jesus. Ons almal was na die jaar ’n bietjie ryker – beide in vriendskappe, volwassenheid en vaardighede.